Sorg dat jy geld in jou beursie het, en dat jy honger is as jy by Mama Roma instap, want jy doen jouself ‘n onreg aan om ‘nie juis lus te wees vir kos’ as jy daarheen gaan nie!
Soms kry jy goeie diens, ander kere minder goed, maar die kos stel nooit teleur nie. Pasop vir verslaaf raak aan hulle calamari pasta. Of hulle lekker pizzas. Die pryse is nogal hoog, maar die kwaliteit skop jy nie agter enige bos uit nie.
Ek kan nie baie oor die restaurant skryf nie, behalwe dat dit ‘n eet ervaring is wat onvergeetlik kan wees met die regte geselskap, genoeg tyd, en goeie wyn.
Moenie hier verby ry nie – dit is uit en uit die moeite werd. En as jy teleurgesteld is, wys hulle daarop. En laat my ook sommer weet…
Mama Roma
Stellenbosch Square Winkelsentrum
021 8802357
Was weer daar Vrydagaand.
Die swak ekonomie vat aan Mama Roma se gat. Van my lieflike flirting bak calamari pasta, het ‘n tweederangse dis oorgebly.
Die feta kon ek tel. 3 stukkies. Die songedroogte tamaties kon ek tel. 2 stukkies. Die calamari was min en die dis was besonder olierig.
Die bestuurder het meer as een maal sy humeur verloor op sy kombuis personeel, en verskrikte klante het groot-oog na sooibrand pilletjies gegryp.
Dit was regtig ‘n goor ervaring. As Mama Roma se kos standaarde so daal, eet ek eerder al my Italjaans by Gino’s. Bekostigbaar en onpretensieus!