December 3, 2009
Kyk, as daar nou een plek is wat lyk of hy altyd uit sy nate bars, is dit Manouche in Andringastraat. Ek dink die arme Cape to Cuba kwyl van viesgeit as hulle oor die pad moet vaskyk in die laggende eters. (Gepraat van C2C, ek dink die oorspronklike een in Kalkbaai is die beste. Hierdie een in my dorp het eenvoudig nie die atmosfeer nie, en dis nou maar wors)
So kry ons darem die ander aand ‘n tafel (jy moet bespreek) om ook te gaan kyk waaroor alles gaan. Rondom ons eet die mense aan hompe kos. Letterlik hompe!
Ons bestel ‘n platter van ‘n soort, en kom daar 3 plat brode en dips aan dat ek rondkyk of mense nie hierdie keer na ONS staar nie….my katte (en ek het ‘n paar grotes) kan opgekrul op een van daai brode slaap! Mensig, dit was lekker. En die res van die kos op die platter was net so lekker. Jy knoffel nog lank daarna, maar dis immers waaroor my lewe gaan… eet en knoffel. Of knoffel eet.
Enigste skok was met die kurkfooi, of corcage soos die ingilse dit roep.
Om darem R45 kurkfooi vir ‘n bottel wyn te betaal is in my oe ‘n skande, ‘n openblote diefstal en wragtag die moeite werd om mense teen te waarsku!
Ek het elkgeval ‘n pyn oor kurkfooie. Toe Fishmonger nog met ons was, het hulle ‘n beleid gehad om geen kurkfooi te vra nie. Weet jy hoe heerlik was dit? En dis nie asof elke restaurant ganger self wyn gebring het nie. O nee, daar is wyn verkoop soos jy nie sal glo nie.
Daarom: WEES GEWAARSKU, MANOUCHE IS ONREGVERDIG DUUR EN STEEL JOU GELD AS JY JOU EIE WYN DAAR WIL NUTTIG. Dis immers die doel van hierdie blad – om mense te vertel. Daar het jy dit nou. Jy is vertel.
Sit af Andringastraat toe vir ‘n kat-slaap-size platbrood en lekker dips. Bestel water. Eet lekker!
Manouche
Andringastraat
Stellenbosch
Leave a Comment » |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor
December 2, 2009
Is jy lus vir ‘n anderwereldse ervaring? Pak jou maats of jou geliefde in, en ry na Jakarta Restaurant, agter die aarbei plaas op die Polkadraai Pad, net buite Stellenbosch.
Wat ‘n vinnige besoek moes wees, het geeindig in ‘n laatnag met heerlike gesprekke tussen ons en die eienaars.
Die kos is ‘n avontuur. ‘n Reis na die vreemde, en tog ook nie. Hier word kos bedien wat jy staaaaaadig moet eet. Met tyd tussen-in vir lekker gesels met jou tafelmaats. En as dit nie te besig is nie, loer die eienaars in en vul jou aand aan met vertellings van ver plekke, en dalk ‘n sopie uit die hemel.
Kos word voorgesit op ‘n warmplaat, en aan jou verduidelik voordat jy die verskillende teksture en wonderlike smake op rys geniet. (nee, dis nie soos sommige sushi plekke met buffets waar jy volgestop word met klein stukkies vis, toegedraai in ‘n hoop rys nie – kyk uit vir daai scam, jy eet R110 se rys, ipv heerlike vis! En wie kan R110 se rys verorber? Nie ek nie!)
Die decor is absoluut verruklik. Alles daar is te koop (behalwe die hond – ek het probeer!)
Die kos is regtig ‘n reis. Ek kan nie veel meer daaroor skryf nie. Gaan probeer self.
Hulle webwerf is wonderlik. Eenvoudig en sonder fieterjasies. Met ‘n kaart en die GPS koordinate.
Jakarta Restaurant
La Provance Pad (agter die Polkadraai Padstal)
021 8813243
2 Kommentaar |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor
September 7, 2009
Gee jou vosperd vrye teuels en laat hom draf in die rgting van Restaurant Barrique op die Vredenheim Landgoed net so buite Stellenbosch. Jip, daar waar die Gemsbokke en die Volstruise rondloop.
Ek hou daarvan om in die winter daar te gaan eet, want die kos is heilsaam en heerlik. Een van die beste lynvis en calamari geregte wat ek ooit gehad het, is uit Barrique se kombuis getoor.
Moenie haastig wees nie. Pak ‘n goeie bottel wyn in, of koop wyn van hulle wynlys (kurkfooi is R20), neem ‘n goeie geselsmaat of ‘n liewe geliefde, en gaan sit agteroor en eet lekker.
Ek was nog nooit teleurgesteld met wat hulle bied nie, en alles is vars en smaakvol voorberei. En hulle beesstert is alom bekend!
Restaurant Barrique
Vredenheim Landgoed
021 881 3001
1 Kommentaar |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor
Augustus 18, 2009
Julian’s is dood. Die vriendelik blondes het verkoop en gewaai. Of so lyk dit…
Nou staan daar ‘n nuwe naam op ‘n ou spot, en ‘n hideous kleur bar by die ingang wat met GOUE paaltjies omlyn is.
Moenie ‘n fout maak nie – die res van die interior is nogal mooi. Enige plek wat ‘n pic van Marilyn Monroe teen die muur het, kry ‘n thumbs-up van my.
Maar soos my geliefde uiter: dit vat ‘n regte swak chef om lasagne op te neuk!
Loop maar draaie om die kos. My lasagne was die swakste wat ek in my hele bestaan gehad het. Die maalvleis se aanbrandsels is met ‘n oordaad tamatie pasta probeer verbloem, terwyl ‘n skrapse pasta lagie bo-op, met die een of ander sous wat na ontvriesing soos platgerolde witbrood gelyk, geproe en die tekstuur gehad het, dit as die volmaakte f*kop afgerond het.
Lasagne word ge’layer’ en met regte witsous tusssen-in gemaak, propvol pasta en borrelende kaas. Nie ‘n klein stukkie kurkdroe ietsie in die middel van ‘n bord, neffens die ou look Julian’s slaai nie!
En om ‘n sout spanakopita met tamatie en uie smoor wat soeter as ‘n pot heuning is, toe te gooi, laat my wonder of Hilda nie dalk in die kombuis werk en haar soet/suur kombinasies op die kliente toets nie.
Nee wat, vir daardie prys loop ek sommer Roman’s toe en koop lasagne daar. Dit lyk beter, smaak beter, en kos baie minder.
Ek sal gaan koffie drink by die tafels oorgetrek met ‘n nagemaakte slangvel effek, maar ek eet by my eie huis.
CELEBRATE
Andringastraat
Stellenbosch
3 Kommentaar |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor
Julie 30, 2009
Chill, ek weet Checkers is nie ‘n restaurant nie, ek is ten volle daarvan bewus, maar weet julle dat sommige restaurante soms met Checkers sakke die kombuise binnegaan? Ja!
Spesiaal vir Niel Kroese – ‘n Maandag kiekie van onze favourite winkel se rakke.
Kyk die kiemryke souse wat versamel onder die hoenderpakkies, en bo tussen die twee pakkies hang ‘n rafeltjie van ‘n soort wat van naby lyk of daar goetertjies op groei! In die foto is dit twee wit merkies van ‘n soort – ek koop nooit ‘n foon vir die kamera nie, daarom die kwaliteit. En dan het ek nog gebewe van omgekraptheid ook, so die foto’s is nie uitvoer kwaliteit nie!
Erg disturbing, die winkel onder blanke bestuur…
CHECKERS STELLENBOSCH
Stellenbosch
Waar anders!
Leave a Comment » |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor
Julie 30, 2009
Min dinge wat ek kan kwytraak oor Nino’s, behalwe dat ek wens daar was kompetisie vir hierdie patetiese plek, anders as die Halaal hotdog trollie langsaan…
Jy wag jou hongerpyne weg, en as
die sousbakkie lyk soos die een op die foto, stukkend en vuil, kry ek krampe in holtes waar dit SEER maak!
Eet voor jy gaan shop, en ry iewers heen om te eet na jy geshop het. Maar pasop vir Nino’s by Access Park, want hulle is ‘n belediging vir die franchise naam!
Nino’s
Shop B32
Access Park
Kenilworth
021 6741378
Leave a Comment » |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor
Junie 28, 2009
Die Here het die aarde gemaak. En toe maak Hy die Banhoek vallei.
En toe laat Hy my vir amper 20 jaar daar woon.
Daarom kan ek met oortuiging se dat die uitsig vanaf die Bessie Plaas se stoep, een van die mooistes is. Maar die heel mooiste is van die berg AGTER die restaurant. Aan sy voete het ek grootgeword. En voor sy skoonheid het ek geswig.
Die restaurant is ‘n absolute lus vir die oog, maag en siel. Selfs al eet jy net ‘n scone en ‘n koppie koffie, is daar min wat verkeerd kan gaan.
Wintertyd knetter die kaggel verwelkomend, en in die somer kan jy op die stoep sit en die berglug inadem.
Toe. Glip berg-op en gaan voed jou lyf en siel. Dis lekker. Dis mooi. Dis goed vir jou!
Hillcrest Berries
Tussen Stellenbosch en Franschhoek, draai links net na die Kylemore afdraai op jou regterkant (as jy van Stellenbosch ry)
Leave a Comment » |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor
Junie 28, 2009
Pasop as jy moet pay as you weigh! Ek het nog altyd weggeskram van die idee, maar lekker in die gat getrap toe ons gaan eet waar die ‘locals eet’.
Delhi Diner ruik pure kerrie en lekkertes wanneer jy die deur oopstoot, en die ry kos is lekker om te sien, maar om darem vir ‘n klomp kerrie aartappels ‘n plaas se prys te betaal, steek my dwars in die krop!
Die vleis is regtig afskeep snitte, en pasop, jy skep bene wat die vorm van ‘n vleisblokkie het, en betaal vir daai vermorsde gewig! Die effe stukkies vleis wat wel nie bene was nie, was regtig taai en onsmaaklik. En die hope klein bene in die kerrie het amper my tande hel toe gekraak!
Nee wat, ek is oortuig dat ek, Boervrou Skoor, ‘n baie beter kerrie en breyani kook as wat daar in die pay as you weigh ry voorgesit was. Solank ek die ’spice mix’ by Woolies koop, en behoorlike snitte vleis gebruik, skop ek enige dag hulle gat.
Jy is gewaarsku, maar as jy wil opskep, weeg, betaal en die bord in die mikrogolf teen die muur WIL warm maak, gaan voort, miskien het hulle al beter vleis, en minder aartappels. Hulle sien my egter nie sommer weer nie.
Delhi Diner
Shop 2
Melcksloot Village
Somerset Mall
021 852 2356
Leave a Comment » |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor
Junie 25, 2009
Die mens is mos nou maar een maal ‘n ‘brand crazy’ wese. Daarom sal ons gaan eet waar die trop eet, en wei waar die media vir ons die specials vertoon.
Ons het egter die ander dag vir die eerste keer loop spek en eiers soek by Streets in die Stellenbosch Square. En was heel verras. Die diens was flink, en ons het presies gekry wat ons bestel het.
Met ons tweede besoek aan Streets, was ek egter 100% beindruk. Ons het net gaan sit en bestel, toe my eetmaat ‘n oproep kry, en dringend iets moes gaan afhandel. So ‘n 40 minute takie. Ongelukkig was ons middagete reeds byna gereed, en het ek dit op ‘hold’ gesit.
Die kelnerin het later kom vra of ek nie maar solank wil eet nie. (ek haaaaat alleen eet) En toe ons na 40 minute ons kos ontvang, was alles warm gehou, en steeds smaakvol.
Dit terwyl ek duiwels bymekaar gemaak het oor hoe die restaurant ONS fout, hulle probleem moes maak.
Dankie Streets, ek kom eet weer.
STREETS CAFE & DELI
STELLENBOSCH SQUARE – SKUINS OORKANT MUGG & BEAN
2 Kommentaar |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor
Junie 25, 2009
Sorg dat jy geld in jou beursie het, en dat jy honger is as jy by Mama Roma instap, want jy doen jouself ‘n onreg aan om ‘nie juis lus te wees vir kos’ as jy daarheen gaan nie!
Soms kry jy goeie diens, ander kere minder goed, maar die kos stel nooit teleur nie. Pasop vir verslaaf raak aan hulle calamari pasta. Of hulle lekker pizzas. Die pryse is nogal hoog, maar die kwaliteit skop jy nie agter enige bos uit nie.
Ek kan nie baie oor die restaurant skryf nie, behalwe dat dit ‘n eet ervaring is wat onvergeetlik kan wees met die regte geselskap, genoeg tyd, en goeie wyn.
Moenie hier verby ry nie – dit is uit en uit die moeite werd. En as jy teleurgesteld is, wys hulle daarop. En laat my ook sommer weet…
Mama Roma
Stellenbosch Square Winkelsentrum
021 8802357
Leave a Comment » |
Restaurant Resensies |
Permalink
Bygedra deur Skoor